streef na uitnemendheid
Om elke leerder van die vaardighede te voorsien wat nodig is in ‘n vinnige, veranderende wêreld.
Excellentia
Midstream College is ‘n parallellmedium (met onderrig in Afrikaans of Engels) privaat skool met ‘n Christelike etos geleë in die suide van Centurion. Die hoërskool het sy deure in 2007 geopen, en ons eerste graad 12’s het in 2009 die IEB-finale eksamen afgelê.
Ons is bekend vir hoë akademiese standaarde, topgehalte onderwysers en streng dissipline. Ons gebalanseerde leerders en alumni floreer nasionaal en internasionaal in akademiese, sport-, kulturele en sosiale sfere. Die ruim skoolterrein huisves van die modernste fasiliteite in die land, insluitend ‘n groot ouditorium, binnenshuise swembad en twee hokkie-astros.
The mediocre teacher tells.
The good teacher explains.
The superior teacher demonstrates.
The great teacher inspires.
– William Arthur Ward
By Midstream College is ons onderwysers ‘n inspirasie vir ons leerders. Ons jaarlikse Belgiese uitruilprogram en opvoedkundige oorsese toere is uiters gewild. Ons avontuursklub bied opwindende ervarings soos die klim van Mont-aux-Sources, kloofklouter (kloofing) in die Magaliesberg, riviervlotvaart op die Oranjerivier en duik by Sodwanabaai. Die graad 10-Odyssey is ‘n nege-dag-uitdaging wat jy nie moet misloop nie.
Quo Vadis? Semigreer na Midstream College en help om ons leuse, Excellentia, te vorm. Carpe Diem – maak die meeste uit die vele geleenthede wat Midstream bied.
ONS WAARDES
RESPEK
LOJALITEIT
COMMUNIO
INTEGRITEIT
EXCELLENTIA
vanaf die skoolhoof se kantoor
Nuusbrief 13 uittreksel | September 2026
Veni, vidi, vici (ons was daar, het gesien en oorwin) – mag hierdie woorde van Julius Caesar waar word vir elke graad 10-leerder wat vanoggend op die Odyssey vertrek het. Ons vertrou dat elke leerder en onderwyser hierdie geleentheid met albei hande sal aangryp, verskeie avonture sal beleef en waardevolle lewenslesse sal leer. Hierdie is reeds ons twaalfde Odyssey. Nogmaals dankie aan mnr Acres en sy span wat hierdie ongelooflike ervaring vir elke leerder moontlik maak. Die ander grade vertrek volgende Woensdag op hulle onderskeie kampe. Nogmaals dankie aan al die ouers wat hulle kinders hierdie Carpe Diem-geleenthede gun.
Vir ons matrieks is kampe en Odyssey egter op hierdie stadium die laaste ding waaraan hulle dink, aangesien hul tans op hul rekordeksamen fokus. ‘n Besondere woord van dank aan die hele groep vir die wyse waarop hulle, hulle twaalf jaar op skool met ‘n feestelike braai, net voor hul eksamen, by die HUB herdenk het. Te midde van hulle Lenteskool is daar nog steeds baie om na uit te sien in die komende maande, waarvan die matriekafskeid vir seker een van die hoogtepunte is. Ek wil verder al die matriekouers na ons finale ouer- en ghongfunksie op Woensdag 14 Oktober om 07:30 in die saal uitnooi. Gryp hierdie geleenthede aan om julle kinders vir oulaas by die skool te ondersteun en hulle College-loopbane te vier.
‘n Dankwoord aan al ons revueleerders, -ouers en -onderwysers. Ons het opnuut ‘n opwindende en verreikende jaar beleef. Hulle het ook verlede Vrydag geskitter en eerste in die 8-Beats-kompetisie geëindig. Ons drie dramas het insgelyks ‘n baie suksesvolle jaar met hul optrede verlede week in die ouditorium afgesluit. Ons koor, Melodia, en ons orkes het ook hul beste jaar nóg beleef. Ons suksesvolle MC3-konsert het hiervan getuig – welgedaan aan al ons kultuurleerders.
Dit is ongelukkig so dat ons geen beheer oor die weer het nie. Baie dankie, weereens, aan almal wat Saterdag die oggendmark en SpringFest bygewoon het. Diegene wat nie die weer wou trotseer nie, het definitief  ʼn geleentheid misgeloop. In die lig van die feit dat die skool reeds op Woensdag 23 September sluit, sal ons volgende volledige nuusbrief eers volgende kwartaal verskyn. Ons sal wel ‘n inligtingstuk rakende skoolfooie vir 2027 asook die skoolkalender vir 2028 gedurende die laaste week publiseer.



