Streef na uitnemendheid

Om elke leerder van die vaardighede te voorsien wat nodig is in ‘n vinnige, veranderende wêreld.

Excellentia

Midstream College is ‘n parallelmedium (met onderrig in óf Afrikaans óf Engels) privaatskool met ‘n Christelike etos geleë in die suide van Centurion. Die hoërskool het sy deure in 2007 geopen, en ons eerste graad 12’s het die IEB eindeksamen in 2009 geskryf.

Ons is bekend vir hoë akademiese standaarde, topgehalte onderwysers en ferm dissipline. Ons gebalanseerde leerders en alumni floreer nasionaal en internasionaal in die akademiese, sport, kulturele en sosiale sfere. Die ruim skoolterrein huisves van die modernste geriewe in die land, insluitend ‘n groot ouditorium, binnenshuise swembad en hokkie-astro-gras.

Die middelmatige onderwyser vertel.
Die goeie onderwyser verduidelik.
Die hoër onderwyser demonstreer.
Die groot onderwyser inspireer.
William Arthur Ward

By Midstream College is ons onderwysers ‘n inspirasie vir ons leerders. Ons jaarlikse Belgiese uitruilprogram en opvoedkundige toere in die buiteland is uiters gewild. Ons avontuurklub klim op Mont-aux-Sources, gaan kloof in die Magaliesberge, vlotvaart op die Oranje en duik by Sodwanabaai. Die graad 10 Odyssey is ‘n nege dae lange uitdaging wat nie misgeloop moet word nie.

Quo Vadis? Semigreer na Midstream College en help vorm ons leuse, Excellentia. Carpe Diem – maak die meeste van die vele geleenthede wat Midstream bied.

ONS WAARDES

vanaf die skoolhoof se kantoor

Die wispelturigheid van die weer die laaste paar maande het almal aan die raai – ons is van ongekende hittegolwe in Maart na oorstromings in April. Die eerste tekens van die winter in die lug is ‘n herinnering aan die wintersport en kultuuroefeninge wat die tweede kwartaal op buitemuurse gebied oorheers. Midstream College se leerders het wyd en syd vir hulle onderskeie sporttoere deur die land getoer. Ek glo julle is goed voorberei vir die taai ligawedstryde wat voorlê en onthou altyd die volgende wyse woorde van die legendariese Vince Lombardi:

The price of success is hard work, dedication to the job at hand, and the determination that whether we win or lose, we have applied the best of ourselves to the task at hand.

Medaljes by die dosyne was die afgelope maand ons swemmers, atlete, tennis- en muurbalspelers se leuse. Hulle het geskitter van streeksbyeenkomste tot senior SA’s. Baie geluk aan iedereen, en ‘n spesiale saluut aan die ouers wat hulle deur dik en dun ondersteun het (meer besonderhede oor hierdie prestasies volg later in hierdie nuusbrief).

Ons agste Belgiese uitruilgroep het verlede Donderdag na ‘n wonderlike twee weke in Suid-Afrika, waar hulle aan huis by 30 van ons leerders was, teruggevlieg. Hulle het tipiese Suid-Afrikaanse gasvryheid beleef, en ons leerders kan nie wag vir hul wederkerige kuier in September in België nie. ‘n Groot woord van dank aan al die ouers, leerders en onderwysers wat hierdie uitruil fasiliteer het.

Vanuit ‘n College- en akademiese perspektief kan te veel afwesighede besondere uitdagings bied. Verseker asseblief dat julle kinders nie onnodig enige skooldag misloop nie. Leerders se punte word gefinaliseer en hulle rapporte vir die eerste kwartaal sal teen Maandag elektronies beskikbaar wees. Neem asseblief kennis van ons eerste oueraand die daaropvolgende Maandag 29 April vanaf 16:00 (net voor die la..ang naweek). U kind bespreek ʼn tydgleuf by die onderwysers wat u graag wil sien.

Geniet die bedrywige kwartaal en gepaardgaande veranderende seisoene.

Dr Carel Kriek
hoof